Robin’s Nest pak deurnaguitdaging

Robin’s Nest pak deurnaguitdaging  GEORGE SAKE NUUS – Robin’s Nest het vir die eerste keer vanjaar ‘n span ingeskryf vir Kansa se Relay for Life en hulle benader die geleentheid met tipiese binneversierdersflair.

Die aanloop tot die groot dag het al vroeg in die jaar begin met ‘n uitstalling in die winkel en vlae wat vrolik by die ingang wapper om bewusmaking onder hulle kliënte te skep.

Fondsinsameling vorder ook fluks. Elke personeellid het ‘n aantal luminariasakkies gekry om met fraai versierings sy unieke stempel daarop af te druk. Bykans 225 van die sakkies is reeds verkoop. Fondse is ook ingesamel deur middel van geldblikkies wat personeel by verskeie plekke uitgeplaas het. Advertensies wat in die George Herald verskyn het, het deelnemers aan die Relay reeds genooi om die Robin’s Nest-stalletjie Saterdagaand te besoek. Hulle sal hier pak-
kies kan koop met ‘n paar onont-beerlike items vir stappers wat probeer wakker bly – verleidelike sjokoladebruintjies, ‘n tydskrif, koffie en ‘n geskenkbewys van R50 op enige aankope by Ro-bin’s Nest van R300 of meer.

“Ons heg ‘n borskankertema aan ons bewusmakingspoging omdat die meeste van ons wat hier werk, vroue is. Ons het ook twee borskankeroorlewendes in ons midde. Die onderwerp lê ons dus baie na aan die hart,” sê Sue Oelofse, algemene bestuurder.

Elke spanlid se T-hemp wat tydens die Relay gedra gaan word, is uniek omdat elkeen vir ‘n spesifieke persoon gaan stap.
“Robin’s Nest is al geruime tyd by Kansa betrokke. Ons het die binneversiering van een groot kamer vir Kansa se Interimhuis geskenk en nog ‘n kamer namens Grand Carriers versier sodat kankerlyers wat daar oornag in ‘n rustige en mooi omgewing kan deurbring. Ons gaan aanhou om ‘n pad met Kansa te stap, maar ons wil vanjaar ook na Kindersorg uitreik en by ‘n organisasie betrokke raak wat mishandelde vroue ondersteun,” sê Sue.

“Ons glo as ‘n mens by welsyn betrokke raak, moet jy jou met die organisasie en sy doelstellings kan vereenselwig. Dit is hoekom ons by vroue en kinders betrokke wil wees – die meeste van ons hier by Robin’s Nest is vroue en baie van ons het kinders.”

Nou is dit eers die Relay wat afgelê moet word en daar heers groot opgewondenheid oor dié deurnaguitdaging.

Ref: George Herald

Designed by Visit Sozo Web DesignSozo Web Design